Artikel – Beeld – 2009 10 02 – Maak Afrikaans almal se eiendom

‘n Gesprek het op gang gekom tussen Afrikaanssprekende en Nederlandssprekendes en in die proses ontdek hulle weer mekaar se taal en die wêrelde van idees, kultuur en geskiedenis wat in die tale opgesluit lê, skryf Ingrid Scholtz, die Afrikaanse Taalraad en Solidariteit se verteenwoordiger in die Lae Lande.

In die jaar 1900 het my oupa in ‘n groot menigte gestaan in die Nederlandse stad Den Haag, waar hy saam met duisende ander pres. Paul Kruger – wat op uitnodiging van koningin Wilhelmina met die kruiser Gelderland na Nederland gekom het – toegejuig het.

Sy aanwesigheid was ‘n bewuste politieke daad. ‘n Protes teen die onmenslike optrede van die Britse imperialisme.

Dit is die tragiek van die geskiedenis dat die Afrikaners later dié diepgevoelde en spontane gevoel van verbondenheid met hul oorlewingstryd deur die apartheidsbeleid vernietig het.

En gevolglik is daar in 1964 op ‘n konferensie oor Afrikaans in Amsterdam gekonstateer dat die sterk historiese en gevoelsbande tussen Nederlands en Afrikaans van 50 jaar gelede nie langer bestaan nie. In die mis van isolasie en internasionale boikotte het Afrikaans vir sy Nederlandse sustertaal onsigbaar geword. En onbekend maak onbemind.

-

Ons beweeg nou vinnig vooruit in die tyd en beland in die jaar 2009 by die Universiteit van Wes-Kaapland waar Afrikaanssprekendes van elke agtergrond saam met Vlaminge en Nederlanders verlede week op die tweedaagse Roots-konferensie die bestaan van Afrikaans saam gevier het.

Soos prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), baie treffend in sy referaat gesê het: "Die verlede sal altyd met ons wees, maar ons sal moet leer om dit te hanteer." Hy het gepleit om "’n transformerende Afrikaans" sodat ons nie langer " ‘n verknegtende", maar " ‘n verlossende" herinnering het.

In hierdie woorde lê ook die verklaring vir die feit dat die Nederlandse en die Vlaamse regering kans gesien het om die konferensie te borg. Die simboliek van daardie daad is van fundamentele belang: Afrikaans is weer deel van die internasionale taalfamilie.

En die eerste gevolge van daardie ontwikkeling is reeds sigbaar in die briewekolomme van Beeld: daar het ‘n gesprek op gang gekom tussen Afrikaanssprekendes en Nederlandssprekendes en in die proses ontdek hulle weer mekaar se taal en die wêrelde van idees, kultuur en geskiedenis wat in daardie tale opgesluit lê.

-

Het die Nederlandse digter Gerrit Komrij nie geskryf dat taal "die moederasem" is "wat vleuels gee aan die denke" nie?

Maar Roots is deel van ‘n baie wyer proses van wedersydse belangstelling en herkenning wat reeds ‘n paar jaar gelede begin het.

Ons gaan nou ‘n paar maande terug in die tyd na 19 Mei 2009 en na die stad Antwerpen. Op daardie dag het verteenwoordigers van Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse organisasies – onder voorsitterskap van Ludo Helsen, minister van kultuur van die provinsie Antwerpen – byeengekom om te besin oor Afrikaans, maar veral ook om praktiese besluite te neem oor hoe hulle beter kan koördineer en saamwerk om die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika te versterk.

Op daardie konferensie is byvoorbeeld besluit om ‘n opvolgkonferensie te hou in Amsterdam en om Afrikaanse weke te organiseer in Nederland en Vlaandere om die algemene publiek meer bewus te maak van die bestaan van Afrikaans.

En miskien nog die belangrikste: die deelnemende organisasies sal kleinskalige en praktiese projekte opstel wat sal fokus op onderwys en die opleiding en bemagtiging van alle Afrikaanssprekendes.

Hierdie konferensie kan gesien word as die simbool van ‘n nuwe liefde op die tweede gesig tussen Nederlands en Afrikaans en dit is tewens die uitkoms van twee belangrike ontwikkelings: een in Suid-Afrika en een in die Lae Lande.

-

Sedert 1994 is Suid-Afrika nie langer die muishond van die wêreld nie en dit is reg so. Maar dit het uiteraard ook beteken dat Afrikaans sy beskermde posisie verloor het en dat die warm asem van Engels in toenemende mate sy nek – en dié van die ander amptelike tale – verskroei het. Maar hierdie bedreigende situasie het ook tot gevolg gehad dat alle Afrikaanssprekendes gedwing is om mekaar in die oë te kyk en met mekaar te gesels. Die produk was die Afrikaanse Taalraad (ATR) wat in Mei 2008 gestig is, ná ‘n lang, moeisame proses van koppestamp.

Die ATR se leuse is heel toepaslik bemagtig, bevorder en beskerm.

Terselfdertyd het die vakbond Solidariteit van krag tot krag gegaan en op allerlei terreine, soos Afrikaanse beroepsonderwys, begin inbeweeg.

Flip Buys, die hoof van Solidariteit, het al ‘n ruk lank met die idee rondgeloop om ‘n buitelandse kantoor op te rig wat namens die belangrikste Afrikaanse organisasies aandag sou vra in die Lae Lande vir die posisie van Afrikaans. Op 30 April 2009 is daardie kantoor amptelik deur oudpres. F.W. de Klerk, geopen.

-

In sy toespraak het De Klerk die volgende belangrike vraag gestel: "Die taal van die globale kultuur is Engels. Hoe gaan minderheidskulture – insluitende ons eie inheemse kulture – die stormloop weerstaan? En meer belangrik nog, hoe gaan mense hul persoonlike identiteite, wat so diep gewortel is en afhanklik van hul kulture en tale, beskerm?

"Die stryd om ons diverse identiteite te behou in ‘n groeiende homogene wêreld sal een van die grootste uitdagings van hierdie eeu wees."

Die vraag oor die behoud van die eie identiteit is een wat – as gevolg van die toenemende getal immigrante en die moeisame samewerking binne die Europese Unie – ook in toenemende mate in Europa gestel word. En dit maak dat mense daar nou meer gevoelig is vir minderheidsregte – waaronder taalregte – as fundamentele onderdeel van die liberale demokrasie.

Toegespits op Nederland en Vlaandere, sien ‘n mens dat die solidariteit van die Vlaminge met Afrikaans dieper en meer intens is as dié van die Nederlanders. Logies, as ‘n mens bedink dat die Vlaminge, soos die Afrikaners vanaf die tweede helfte van die 19de eeu, hul eie taal- en sosiaal-ekonomiese stryd gehad het, in hul geval teen die Franstalige elite. En nog steeds is België ‘n diep verdeelde land waar die Vlaams/Nederlandstalige en die Waals/Franstalige dele elk op soek is na hul eie identiteit.

-

Vir die Nederlanders het die worsteling met hul eie identiteit baie meer onlangs gekom en is dit die direkte gevolg van die aanwesigheid van 900 000 Moslem-immigrante wat, in teenstelling tot eerdere immigrasiegolwe, nie so maklik opgeneem word in die Nederlandse samelewing nie. In hierdie multikulturele kookpot word ook die Nederlanders gedwing om na te dink oor hul eie identiteit, kultuur en taal. En soek hulle na hul wortels, wat hulle onder meer vind by Afrikaans.

In Oktober gaan die ministers van onderwys en kultuur van Vlaandere en Nederland besin oor die vraag of daar binne die Nederlandse Taalunie – ‘n samewerkingsverband tussen die twee lande wat Nederlands oor die wêreld heen wil bevorder – ruimte is vir meer aandag vir Afrikaans.

En so het die tyd dan ryp geword om mekaar opnuut te leer ken en met verwondering te reageer op die vindingrykheid van mekaar se tale en kulture.

Ons sal nie meer staan en juig soos my oupa nie, maar ons sal versigtig na mekaar kyk en mekaar aftas en mekaar af en toe vol vreugde herken. En ons kan mekaar help om ons tale verder uit te bou en te laat oorleef.

-

Tydens die opening van Afrinetwerk het Flip Buys die volgende woorde van die heilige Konstantyn uit die agtste eeu aangehaal: "Skyn die son nie dieselfde vir die hele wêreld nie? Asem ons nie almal saam die lug in nie? Is jy nie skaam om slegs drie tale toe te laat en ander mense tot blindheid en doofheid te veroordeel nie? Sê my, dink jy God is hulpeloos en kan nie gelykheid bewerkstellig nie? Of dat hy jaloers is en dit nie sal skenk nie?"

Laat ons Afrikaans die eiendom maak van almal!