ATR kommentaar oor die konsepwysigingswet op wette op basiese onderwys

KOMMENTAAR OOR DIE KONSEPWYSIGINGSWET OP WETTE OP BASIESE ONDERWYS

 

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is besorg oor die vele implikasies van die Konsepwysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (die konsepwysigingswet) en glo dat dit die volhoubaarheid van die onderwysstelsel as geheel asook moedertaalonderrig op die spel plaas. Die volgende kwessies is vir ons van belang:

 

Een, die sentralisering van besluitneming wat in die wysigingswet voorsien word, ignoreer die belange van ouers en skole ten opsigte van die aanstel van onderwysers en hoofde, onderrigtale, en kursusse wat aangebied word. Ouers sal nie aan Skoolbeheerliggame (SBL’e) deelneem of skole ondersteun indien hulle rol in die goeie bestuur van daardie skole op fundamentele maniere ondermyn word nie;

 

Twee, ouers se onttrekking sal veral effektiewe SBL’e, en daarmee goeie bestuur en aanspreeklikheidsmeganismes, ondermyn. Die sentralisering waarvan in die wysigingswet sprake is, sal terselfdertyd niks doen om die kapasiteite van minder effektiewe of disfunksionele SBL’e te ontwikkel nie, met die gevolg dat die algehele bestuurspyl van skole in die land in die gedrang is;

 

Drie, die wysigingswet sal waarskynlik lei tot ʼn afname van private subsidiëring van publieke skole. Dit sal skoolfinansies en die volhoubaarheid van skole negatief raak, ook hul vermoë om vir die implementering van regeringsbeleide (byvoorbeeld taalbeleide) te betaal, en uiteindelik die kwaliteit van die opvoeding wat leerders ontvang, verminder;

 

Vier, die nuwe burokrasieë wat gebou sal moet word om al hierdie skoolvlakfunksies oor te neem wat voorheen grootliks verniet deur ouers vervul is, sal nou deur iemand befonds moet word. Die staat sal dit weens die fiskale afgrond moeilik kan doen, terwyl dit weens ekonomiese omstandighede en belastingsvoosheid ewe moeilik sal wees om dit uit die ouers te kry. Hulpbronne sal dus heel waarskynlik vanaf skole na die burokrasieë verskuif word wat minder vir opvoeding laat;

 

Vyf, die verswakking van oorsig in die geval van funksionele SBL’e sal meer ruimte skep vir die einste korrupte gedrag wat die konsepwysigingswet veronderstel is om aan te spreek. Sentralisering sal op sy beurt meer potensiaal vir die verdieping van sistemiese korrupsie. Die burokrasieë sukkel tog self met korrupsie, wat die sentralisering swak medisyne vir die probleem maak;

 

Laaste, dit lyk nie asof die konsepwysigingswet in sy huidige vorm ernstig kennis neem van die insette wat deur ʼn verskeidenheid van partye gemaak is nie, of hulle geldige belange en bekommernisse in ag neem nie. Die konsepwysigingswet sal demoralisering en polariserend op die opvoedkundige sisteem inwerk en in alle waarskynlikheid met hofsake en voortslepende weerstand te make kry.

 

Die konsepwet skiet in vele opsigte tekort of blyk irrasioneel te wees omdat moontlike negatiewe gevolge en onbedoelde gevolge nie in ag geneem word nie. Om heeltemal onnodiglik bykomende kostes en finansiële laste te skep maak bitter min sin in ʼn situasie waar die staat nie sy boeke kan balanseer nie en die land op die drumpel van ʼn ekonomiese krisis staan.

 

Deur funksionele SBL’e te ondermyn, is die kanse groot dat die konsepwysigingswet ʼn reeds sukkelende opvoedkundige sisteem oor die randjie sal stoot en daardeur ʼn nuwe krisis skep wat honderde-duisende leerders ʼn ordentlike opvoeding kan kos. Ons land kan dit nie bekostig nie.

 

ʼn Honger burokrasie is nie die antwoord vir die probleme in die sektor nie en is in ieder geval nie ekonomies lewensvatbaar nie. Bemagtigde ouers wat omgee vir hulle skole, tesame met funksionele SBL’e, bly die goedkoopste en mees effektiewe manier om korrupsie te beveg en om goeie bestuur op skoolvlak uit te bou.  Pleks van besluitneming te sentraliseer, behoort die Departement eerder die kapasiteite van minder effektiewe of disfunksionele SBL’e in vennootskap met burgerlike groepe ontwikkel.

 

Ons vra dus dat die konsepwysigingswet teruggetrek moet word en nuut in noue samewerking met alle rolspelers ontwikkel herontwikkel moet word.

 

Navrae:

Dr Conrad Steenkamp

Hoof: Afrikaanse Taalraad

Sel: 078 142 6673

www.afrikaansetaalraad.co.za