Berig – Beeld – 2012 08 28 – Skole smelt saam ter wille van Afrikaans

image

Twee hoërskole in die Vaaldriehoek het besluit om saam te smelt “ter wille van die behoud en voortbestaan van Afrikaans as onderrigmedium”.

Die Hoër Tegniese Skool (HTS) Vereeniging en Hoërskool Vereeniging het sowat vyf jaar gelede met dié samesprekinge begin.
Die twee skole sluit einde vanjaar om ’n nuwe, groot Afrikaanse skool te vorm wat waarskynlik as Vereeniging Gimnasium bekend sal staan. Die skool sal ook nuwe kleredrag, ’n skoollied, leuse en identiteit kry.
Die Hoërskool Vereeniging se terrein gaan gebruik word en onderhandelings is aan die gang om al die personeel en leerlinge na die nuwe skool oor te plaas.
Faan Beeslaar, hoof van die Hoërskool Vereeniging, en Dries van Heerden, hoof van HTS Vereeniging, is positief oor die verwikkeling en meen dit is ’n uitdagende stap vorentoe. Hulle sal die skool saam bestuur.
Albei skole het verlede week oueraande gehad om die pad vorentoe te verduidelik.
Die redes wat die skole vir die samesmelting aanvoer, is dat daar vroeër aangedui is dat die drie Afrikaanse hoërskole elk twee Engelse klasse vir gr. 8 sal moet inneem.
Daar is te min Afrikaanssprekende gr. 7-leerlinge wat vir gr. 8 wil inskryf omdat een van die Afrikaanse laerskole volledig Engels geword het en van die ander vroeër na parallelmedium oorgeskakel het. Voorts het die Afrikaanse woonbuurte verengels wat die departement genoop het om plek vir dié leerlinge te kry.
“’n Makro-Afrikaanse skool sal verseker dat Afrikaanssprekende kinders in hul moedertaal onderrig kan word,” het die skole in ’n gesamentlike verklaring gesê.
Dié nuwe skool sal na verwagting 1 400 leerlinge hê met ’n uitgebreide vakkeuse wat akademiese, tegnologiese en landbou-vakke sal insluit.
HTS Vereeniging se geriewe sal aan die regering teruggegee word.
Die Gautengse onderwysdepartement het aangedui dat dit as Engelse hoërskool gebruik gaan word en vyf Engelse klasse vir gr. 8-leerlinge vir volgende jaar is reeds geregistreer.
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het in ’n verklaring gesê weens swak beplanning van die onderwysdepartement is elke oop plek in Gauteng se funksionerende skole onder geweldige druk om gevul te word.
“Beheerliggame het volgens wet die reg om die skool se taal- en toelatingsbeleid te bepaal en toe te pas. Indien skole egter litigasie daaroor wil vermy, is die beste veiligheidsmeganisme om te verseker die skool is vol.”
Fedsas beskou samesmelting as ’n sinvolle strategie om moedertaalonderrig te verseker in gebiede waar beskikbare skole se kapasiteit nie ten volle benut word nie.
Volgens Fedsas sal die samesmelting van die twee skole ’n probleem van “oorkapasiteit” tot gevolg hê en ’n beroep is op die departement gedoen om met tydelike klaskamers en geriewe uit departementele finansies te help.