Brief – Die Burger – 2009 06 19 – Bevorder Afrikaans in werksomgewing

ANET BOSHOFF van Seepunt skryf: As iemand wat onlangs ‘n graad (2007) en daarna my klerkskap (2008) aan die US voltooi het, is ek oortuig dat Afrikaans aan die US springlewendig en gesond is.

 

Ná my jare in Stellenbosch bevind ek myself in ‘n “Engelse” werksomgewing waar Afrikaanse kollegas en kliënte my antwoord in Engels wanneer ek hulle in Afrikaans aanspreek, of Afrikaanse mense met mekaar in Engels kommunikeer per e-pos.

 

Baie van my tydgenote wil nie verder in Afrikaans studeer nie “want die werksomgewing is Engels”. Op die televisie sien ek saans hoe MK en KykNet my taal verkrag met sinne soos “ons welkom vir . . . in die ateljee”.

 

Die taaldebat by die US is ‘n komplekse probleem en ek kan moontlik die taalstryders se rede insien. Maar solank die hele Afrikaanse bevolking nie hul gewig (en geld) vir Afrikaans ingooi nie, veg ons ‘n verlore stryd.

 

Waarom nie eerder ‘n veldtog om Afrikaanse mense meer bewus te maak van die voortbestaan van ons taal nie? Of dalk voorstelle aan maatskappye hoe hulle taal- en kultuurdiversiteit in die werksomgewing kan bevorder?