Erfenisdag: Die herkoms van Afrikaans

Die herkoms van Afrikaans?

Vooraf:

Die vooraf toeligting oor die program het die verwagting geskep dat daar oor die wye spektrum van die Afrikaanse spraakgemeenskap heen oor die herkoms van Afrikaans besin sou word.

Ek was aanvanklik skepties, te oordeel aan die paneelsamestelling en die gehoor, oor wat ek as ’n potensieel eensydige gesprek geantisipeer het. Ek was egter nie teleurgesteld oor die verloop van gebeure nie, eerder aangenaam verras.

Die waarde en betekenis van die saamtrek

Dit was ’n groot voorreg om deel van so ’n opwindende gesprek te kon wees. Hierdie Taalmaandvieringe was myns insiens ’n historiese gebeurtenis, wat heel gepas in so ’n historiese gebou plaasgevind het. Ek het dit as uiters verfrissend ervaar dat die voorheen gemarginaliseerde stem van bruin Afrikaanssprekendes op so ’n spontane wyse gehoor kon word. Sprekers het met trots en groot nostalgie oor die taalinvloede van, onder andere, die oorspronklike inwoners van hierdie land met mekaar gesprek voer.

Professor Christo van Rensburg het met sy insiggewende inleidende voordrag ’n gepaste grondslag vir die daaropvolgende bespreking gelê. Elke paneellid het, binne die konteks van die inleidende opmerkings, op kleurvolle wyse ’n perspektief op die herkoms van Afrikaans gegee. Die paneellede moet almal gekomplimenteer word vir hul goed nagevorste bydraes.

Dit was definitief ‘n goeie roep om ’n kundige gesprekleier soos Rian Cloete in te span, wat die ware psige van hierdie betrokke Afrikaanse stem en die anatomie van taalvariasie verstaan het. Hy het hom goed van sy taak gekwyt om bo en behalwe sy fasiliteringstaak ook saam met paneellede en ander gespreksgenote in die herkoms van Afrikaans te delf.

Dalk was dit goed dat ’n oorwegend bruin perspektief by hierdie forum gehoor kon word. Wat natuurlik treffend was, was die ongebonde en passievolle wyse waarop die gesprek, verteenwoordig deur ’n paar generasies, plaasgevind het. Die gees het gewissel van kalm en beredeneerd tot emosioneel en later tot radikale aktivisme. Dít was vir my ‘n teken dat ons hier met ’n lewenskragtige debat besig is wat nou net begin vlam gevat het!

Te midde van die verskillende invalshoeke oor die herkoms van Afrikaans het een gemeenskaplike refrein deurgaans weerklink, naamlik dat die plaaslike invloede, onder andere die Khoitaal en Maleis, ’n baie meer dominante impak op die beslag van Afrikaans gehad het as wat die hoofstroom-taalgeskiedenis wou deurgee en erken.

Eienaarskap oor die Erfenis van Afrikaans

Dr Willa Boesak het beklemtoon dat ons (bedoelende bruin mense) ons nie vir die erfenis van Afrikaans moet skaam nie. Hy is van mening dat die persepsie van Afrikaans as die taal van die onderdrukker nek omgedraai moet word.

Dit was vir my duidelik dat, waar die Khoi-nasate en ander minderheidsgroepe van die Afrikaanse spraakgemeenskap voorheen tot die periferie van die taalgemeenskappe uitgerangeer is, hulle nou self leiding neem om die misplaaste siening oor die herkoms van Afrikaans reg te stel.

Die pad vorentoe?

Ek hoop dat hierdie gesprek slegs die begin was van ’n reeks verdere interaksies vorentoe. Vanjaar was daar ongekende belangstelling in die Khoi-geskiedenis en die invloede van volksplanting aan die Kaap, na aanleiding van gebeure op kulturele en politieke gebied. Ons is juis nou, meer as ooit in die geskiedenis, beter geposisioneer om die storie oor die herkoms van Afrikaans tot sy reg te laat kom.

‘n Toekomstige gesprek oor die herkoms van Afrikaans moet myns insiens ’n hoofstroomgesprek raak, waar die breë Afrikaanse taalgemeenskap verteenwoordig is. Ons hoef nie te vrees dat Afrikaans verder “gekaap” sal word soos wat een van die sprekers by die byeenkoms dit gestel het nie. Daarvoor is daar genoeg wasdom en intellektuele diepte by die Taalmaandvieringe ten toon gestel.

Verdere gesprekke sal die formele onderwyssektor moet betrek om te verseker dat taalvariëteite in die onderrigsituasie tot hul reg kom. Alvorens dit gebeur, sal die verskynsel voortduur dat leerders ’n lae selfbeeld oor hul taalgebruik ontwikkel.

Ek hoop dat toekomstige gesprekke tot gevolg sal hê dat Afrikaans as kultuurdraer uiteindelik ook die kultuurgoedere en die tot nog toe onontdekte taaljuwele van die volle Afrikaanse taalgemeenskap in sy verskeidenheid sal weerspieël.