Huldeblyk aan Frances Hearne

Die Taalraad eer die nagedagtenis van Frances Hearne, voormalige hoofbibliotekaris van Wesfleur Biblioteek in Atlantis. Frances Hearne het haar lewe gewy aan naastediens, en het in Atlantis in die Wes-Kaap vir jare lank haar lewenstaak, eintlik haar lewenspassie, uitgeleef: om deur leesbevordering kinders se lewenskanse te verbeter.
Sy het die Taalraad in 2014 genader met ’n versoek om vroue van Atlantis op Vrouedag by die Wesfleur Biblioteek byeen te bring om hulle te inspireer om ’n liefde vir lees by kinders van Atlantis te bevorder. Frances Hearne het naamlik geweet dat leesvaardigheid en ’n liefde vir lees vir kinders die sleutel bied om akademies te presteer en iewers te kom in die lewe. En watter besonderse Vrouedaggeleentheid was dit nie vir ons almal wat die dag meegemaak het nie! Wat veral getref het, was die warm, hartlike atmosfeer, die stylvolheid en die aandag wat aan detail bestee is. Dit was duidelik wie die krag en inspirasie agter die mooi geleentheid was. Frances Hearne sal voortleef in die harte van almal wie se lewens sy positief geraak het. Die Taalraad eer haar nagedagtenis met waardering.

 

Foto.Frances Hearne

Me Frances Hearne met dr. Michael le Cordeur, voormalige voorsitter van die Taalraad, en mnr. Wayne du Plessis van World Vision