Rubriek – Die Burger – 2011 06 24 – Afrikaans moet in Lae Lande bevorder word

279 Naby

Leopold Scholtz

Nou die aand, terwyl my vrou en ek na die televisie sit en kyk, ervaar ons ’n heel eienaardige gewaarwording. In die advertensiepouse sê ’n stem opeens: “Hierdie program word moontlik gemaak deur die steun van Savanna Cider uit sonnige Suid-Afrika.”

Op suiwer Afrikaans, en dit nogal op die Nederlandse televisie! En sedertdien is dit nog ’n paar keer herhaal.

Of dit toevallig is of nie, dit het saamgeval met die hou van die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam, die eerste Afrikaanse kunstefees in die geskiedenis wat in Nederland gehou is.

Van verlede Vrydagaand tot Sondagaand kon etlike honderde toeskouers – van wie ’n groot deel Nederlanders was – hulle verlustig aan die musiek van kunstenaars soos Amanda Strydom, David Kramer, Niël Rademan, Gert Vlok Nel, Chris Chameleon en die Kaapse rapper D’Low van Mitchells Plain. Hulle kon hoor wat die situasie van Afrikaans is van mense soos Breyten Breytenbach, Karen Meiring en dr. Michael le Cordeur, en hulle kon luister na die skryfwerk van onder meer E.K.M. Dido, Etienne van Heerden, Marita van der Vyver en Ronelda Kamfer.

Hulle kon kyk na Afrikaanse toneelstukke. En wat vir my persoonlik nog die interessantste was, was die feitlik suiwer Afrikaans waarmee die swart Surinaamse sangeres Denise Jannah die gehoor toegespreek en -gesing het.

Dit was ’n wonderlike belewenis van Afrikaans in die tuiste van – kom ons noem dit maar so – Afrikaans se niggie, Nederlands. Des te meer omdat die twee niggies, wat onder meer dieselfde voorouers het, ’n tyd lank sterk uitmekaar gegroei en selfs ’n weersin in mekaar ontwikkel het.

Afrikaans en die Afrikaners, soos die Nederlandse historikus prof. Gerrit Schutte dit in sy boek Nederland en de Afrikaners: Adhesie en Aversie opgeteken het, is eintlik pas met die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880-’81 en veral met sy opvolger van 1899-1902 ontdek. Toe het die Nederlanders deur ’n romantiese waas na die Boere gekyk en drome van ’n Groot-Nederland wat tot in Afrika strek, gesien.

Nou ja, die Vrede van Vereeniging het daardie droom gou gekelder. En toe begin dinge skeefloop.

Tussen 1940 en 1945 was daar ’n taamlik hardhandige Duitse besetting van Nederland, waartydens die ou bewondering vir die Afrikaners taamlik in die Nederlandse Nazi’s se propaganda misbruik is. Dit het al ’n enigsins slegte smaak in die Nederlandse monde gelaat.

En toe kom die Nasionale Party se oorwinning van 1948. Die Afrikaners se politieke selfbewussyn van dié tyd is hoofsaaklik bepaal deur hul dekades lange stryd om politieke, kulturele en ekonomiese oorlewing teen die Engelse, en hul vrees om deur die swartes ondergeploeg te word, met apartheid as gevolg.

Die Nederlandse wêreldbeskouing is daarteenoor gevorm deur die wreedheid van die Duitse rassisme, en so het die twee volke teenoorgestelde rigtings ingeslaan. Daar was pogings om brûe te bou – ’n mens dink byvoorbeeld aan die uitruil van bladsye artikels tussen Die Burger en die Nederlandse Protestantse dagblad Trouw – maar teen die einde van die jare sewentig was die breuk finaal.

Die jare tagtig is gekenmerk deur ’n ysige verhouding. Afrikaans was iets waaroor die Nederlanders skaam was, die taal van die half Nazistiese verdrukkers; Afrikaners was ’n groep onherroeplike rassiste wat uit die wêreldgemeenskap gewerp moes word.

En andersom het die Afrikaners heftig gereageer op die totale ongenuanseerdheid wat hulle onder die Nederlanders aanskou het.

Maar dit is nou geskiedenis. Ná 1994 is Afrikaans bevry van die las van apartheid, die bruines is stadig­aan besig om besit te neem van die taal wat ook húl eiendom is, die Nederlanders beweeg self skerp na regs, en ’n blye herontdekking van die Afrikaanse niggie is aan die gang.

Die sukses van die Festival bewys dit.

Nou is die taak om behoorlike momentum hieraan te gee. Van die Suid-Afrikaanse regering hoef niks verwag te word nie; die Afrikaanse burgerlike samelewing sal self moet sorg dat Afrikaans struktureel en duursaam in die Lae Lande bevorder word.

Helaas is niks in die lewe verniet nie. Íemand met ’n dik beursie sal moet uithaal en wys.

 

[Die skrywer is Media24 se korrespondent in Europa.]