Taalraad kommentaar op die US se Hersiene Toelatingsbeleid

Persvrystelling

Nóg Afrikaans, nóg Xhosa word in die US se Hersiene Toelatingsbeleid genoem. Die woordjie “taal” kom skaars voor.

In Artikel 6.2.8 van die Toelatingsbeleid word geskryf dat fakulteite, benewens akademiese prestasie, ’n student se “meertaligheid” in ag kan neem (indien dit die fakulteite sou pas). Wat hierdie “meertaligheid” in die praktyk behels, word nie hier of elders in die Toelatingsbeleid bepaal nie (eintlik ook nie in die Taalbeleid nie).

In Artikel 6.13, “Taal en toelating,” word enersyds verwys na die Taalbeleid se verbintenis tot “meertaligheid” (steeds ongedefinieer) en die “dinamiese proses” waarvolgens die US poog om “meer inklusief en meer divers” te word.

Die relevansie van Artikel 6.13 tot die Toelatingsbeleid word egter nie verduidelik nie. Nietemin word die betekenis van “diversiteit” in die Toelatingsbeleid gedefinieer as iets wat te doen het met “faktore soos rasseklassifikasie, gender, gestremdheid, sosio-ekonomiese benadeling (onderwys- en/of ekonomiese benadeling en eerstegenerasiestatus), geografiese ligging (platteland teenoor stad) en ouderdom.”

Taal vorm dus eksplisiet nié deel van die US se definisie van “diversiteit” nie. Dit word ook nie onder die hofie van sosio-ekonomiese faktore in ag geneem nie. Dit beteken dat die US se studentekorps as “divers” kan geld, selfs al is dit 100% Engelssprekend.

Voorts verbloem die miskenning van taal as ’n relevante faktor in die Toelatingsbeleid die massiewe onderverteenwoordiging van swart en bruin Afrikaanssprekendes by die universiteit. Sonder eksplisiete taalteikens en sinvolle taalmeganismes in die US se beleide sal die strukturele diskriminasie wat hier ter sprake is verdere sosio-ekonomiese marginalisering van hierdie groep in die hand werk.

Dit sal ook die taalverskuiwing na Engels versterk, ’n proses met geweldige sosiale, kulturele, sosio-ekonomiese en menslike gevolge, iets wat geloofwaardige instansies soos UNESCO al sedert die 1950s duidelik maak.

Hierdie kwessies is vir die US egter niks nuuts nie, omdat die gevolge van die US se benadering tot taal en die impak op Afrikaanse skole immers openlik by die universiteit bespreek is. Inderdaad, taalverskuiwing is gedurende ’n Senaatsvergadering oor die Taalbeleid selfs genoem as ’n rede hoekom Afrikaans slegs ’n probleem van korte duur sal wees.

Daar kan dus nie later sprake wees van die “onbedoelde gevolge” van universiteitsbeleid nie, veel eerder van ’n daad van uitsluiting wat willens wetens gepleeg word.