Afrikaans as onderrigtaal by universiteite

Bydrae as amicus curiae tot die hofsaak teen die Universiteit van die Vrystaat

 

Die Taalraad het baie aandag gegee aan die posisie van Afrikaans as onderrigtaal by Universiteite. Daar heers in die Taalraad groot kommer oor die felle veldtog teen Afrikaans wat onder die vaandel van die FeesMustFall-beweging en die dekoloniseringsdiskoers geloods is. Ook die sterk rasgedrewe aard van die plaaslike verkiesings het tot hierdie besorgdheid bygedra. Die Taalraad se standpunt bly dat Afrikaans nie ʼn wit taal is nie, maar aan ʼn groot verskeidenheid van sprekers behoort; ook dat Afrikaans ʼn onmisbare rol in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van miljoene van haar sprekers speel. Enige afskaling van Afrikaans as onderrigtaal raak hierdeur die belange van al haar sprekers.

 

Die Taalraad het met ons Voorsitter as die ondertekenaar as amicus curiae aan die hofsaak teen die UV deelgeneem en het hiervoor ʼn aanbieding oor die belangrikheid van Afrikaans as akademiese taal ontwikkel (Bylaag A).

 

Die UV se nuwe taalbeleid is ter syde gestel en verdere hofsake word verwag.  Die bydrae word met enkele veranderinge ook vir die komende hofsaak teen die US oor hulle nuwe taalbeleid gebruik, weereens met die Voorsitter as ondertekenaar, hierdie keer in haar private hoedanigheid. Die Taalraad neem dus formeel nie aan die saak deel nie.

 

Bydrae tot die Transformasiekomitee van die Universiteit van Pretoria se evaluasie van voorstelle om die taalbeleid van die universiteit te verander.

 

Die Taalraad het op 3 Junie 2016 ook ʼn skriftelike bydrae aan die Transformasiekomitee van die UP gerig waarin ʼn saak vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die universiteit uitgemaak word. Die bydrae lyk soos volg:

 

Die Afrikaanse Taalraad (die Taalraad) tree op as ’n konfederale dakorganisasie vir ’n meerderheid Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies en is as ’n taalraad by die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte geregistreer. Ons verwelkom die geleentheid om op die Onafhanklike Transformasiepaneel (die Paneel) se uitnodiging te reageer. Gegewe die kort kennisgewing is ons bydrae noodgedwonge tot beginselkwessies beperk en laat ons dit aan ander oor om meer tegniese bydraes te maak.

 

Die Taalraad bevorder Afrikaans in haar volle diversiteit: Oranjerivier-Afrikaans, Kaaps, Namakwalandse Afrikaans en alle ander vorme van die taal. Afrikaans is nie ’n wit taal nie en behoort aan al haar sprekers. Daar ís in die verlede in Afrikaans seergemaak, maar ook in Afrikaans ’n stryd teen onreg gevoer. Die Taalraad mik dus op die heling van die letsels van die verlede en versoening tussen die sprekers van die taal. Ons reik ook uit na ander, onder andere diegene wat negatiewe persepsies van die taal het.

 

Ons beskou Afrikaans as ’n hoogs ontwikkelde taal van bemagtiging wat aan al haar sprekers se emosionele, religieuse, sosiale, kulturele, en akademiese behoeftes kan voldoen – beter as wat enige ander taal dit vir hulle sou kon doen. Daarom bevorder die Taalraad Afrikaans in die huis en moedertaalonderrig op skool en universiteit.

 

Ons glo dat die Grondwet ruimte skep vir ’n meertalige bestel waarin hierdie funksies van Afrikaans op ’n gelyke basis met ander tale uitgeleef kan word; ook dat teenstrydige belange, waar dit sou bestaan, by wyse van onderhandeling, goeie beplanning en bestuur versoen kan word. Met ’n bietjie verbeelding en ’n bereidwilligheid tot kompromie, kan almal gewoonlik geakkommodeer word.

 

Ons besef dus dat die verdere ontwikkeling van Afrikaans nie in ’n vakuum kan geskied nie, maar gekoppel is aan die ontwikkeling van ons ander inheemse tale, Nama inkluis. In hierdie opsig is ons veral opgewonde oor die prominensie van isiZulu by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Ons hoop dat hierdie voorbeeld deur ander universiteite gevolg sal word en dat die Universiteit van Pretoria dieselfde gewig agter die ontwikkeling van Sepedi en ook Afrikaans sal gooi. Daarvoor is duidelike teikens en meganismes binne die raamwerk van die Taalplan nodig. Met meertaligheid bedoel ons dus nie die simboliese insluiting van inheemse tale as hulpmiddels nie, maar die ontginning van die volle waarde van hierdie tale op ’n volhoubare basis.

 

Hierdie standpunt is nie bloot gebaseer op oorwegings van eiebelang nie, maar ook op die besef dat ons tale ’n uiters waardevolle ekonomiese hulpbron daarstel. Taal help om mense se volle potensiaal te ontsluit, daarmee ook hulle vermoë om aan die ekonomie deel te neem en daartoe by te dra. Taal skep ruimte vir nuwe produkte en markte wat slegs deur meertalige maatskappye geteiken kan word. Deur die inheemse tale binne ’n meertalige bestel te ontwikkel, kan die land dus sy ware ekonomiese potensiaal bereik.

 

Kwantifisering van hierdie bydrae sal wys dat mens die ekonomiese waarde van taal nie kan veronagsaam nie. Studies oor moedertaalonderwys op skoolvlak binne ’n meertalige verband wys byvoorbeeld duidelik daarop dat die bykomende kostes daarvan duidelik regverdigbaar is op grond van die ekonomiese rendement wat dit genereer. Een van hierdie rendemente sluit in die doeltreffender gebruik van beperkte hulpbronne op universiteitsvlak. 1

 

Taal kan ook ’n belangrike bydrae tot positiewe sosiale verandering2 lewer soos wat wyle Neville Alexander geargumenteer het. Volgens hom is meertaligheid ’n voorvereiste vir die ware kulturele onafhanklikheid van die land, vir die kulturele selfvertroue wat ons nodig het om as ’n nasie te ontwikkel.3 Hy het dit ook as ’n voorvereiste vir ’n ware deelnemende demokrasie beskou. Die lot van Afrikaans sal die politieke lot van die land bepaal, het hy gedink.

 

Monolinguisme beperk naamlik toegang tot die staat en die ekonomie tot diegene wat Engels goed beheers. Meertaligheid skep daarteenoor toegang vir die res en verhinder die konsolidasie van staatkundige, ekonomiese en politieke mag in die hande van ’n klein, hoofsaaklik stedelike elite. Om hierdie redes bevorder die Taalraad konsekwent meertaligheid, en waar toepaslik, die gebruik van Afrikaans in besigheid, die staat en publieke ruimtes.

 

Die meeste inheemse tale in Suid-Afrika, met die moontlike uitsondering van isiZulu wat uitstekend as lees- en skryftaal geanker is, ervaar tans toenemende druk. Die gebruiksvorme van Sepedi in en om die stedelike gebiede verskil byvoorbeeld toenemend van die meer tradisionele vorme in die platteland – soveel so dat sommige taalkundiges selfs voorspraak vir ’n herstandaardisering van die taal begin maak. Dieselfde geld toenemend vir Afrikaans en ander inheemse tale soos isiXhosa, waar die plattelandse vorms toenemend as die “regte” of “suiwer” variëteite geld.

 

Die behoud en verdere ontwikkeling van hierdie tale as instrumente van kulturele vernuwing en bemagtiging, voorveronderstel die betrokkenheid van die universiteite. Dit is ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap wat universiteite moeilik kan negeer. ’n Balans moet eenvoudig tussen die taalbehoeftes van plaaslike gemeenskappe en universiteite se versugting na internasionalisering gevind word. Juis by wyse van hierdie worteling in die plaaslike kan die negatiewe invloede van neo-liberale internasionalisme besweer word.

 

In die geval van die UP is ’n beginselbesluit oor die waarde van beide Afrikaans en Sepedi as tale van bemagtiging dus nou nodig. Dit sal ’n finale besluit wees omdat ’n latere terugkeer na die status quo waarskynlik nie lewensvatbaar sal wees nie. En daar is wyer implikasies: indien Afrikaans val, dan val Sepedi. As Afrikaans nie kan oorleef nie, dan is die kanse vir die meeste ander inheemse tale skraal.

 

Die Taalraad hoop dus dat die Paneel in hulle oorweging van die bydraes wat deur verskillende partye gemaak word, die waarde van taal as ’n instrument van kulturele, ekonomiese en politieke bemagtiging nie sal onderskat nie; so ook nie die emosionele waarde van taal nie, en haar rol in die kunste en die verwoording van mense se intiemste ervaringe van die werklikheid. Hierdie funksies word almal ondermyn indien die intellektualisering van ’n taal ignoreer word.

 

Juis weens ons ingesteldheid op taal en kultuur, het die Taalraad baie begrip vir die vervreemding wat so baie studente op die kampus van die UP en ander universiteite beleef. Die UP ís ’n histories wit Afrikaanse ruimte met ’n sterk Westerse, of eerder internasionale, akademiese tradisie. Daarbenewens daag baie studente swak voorbereid in hierdie ruimtes op en sukkel om die druk te verwerk, finansiële probleme inkluis.

 

Ons verstaan ook dat hierdie ervaring tot frustrasie en dikwels selfs woede lei – klassieke simptome van “kultuurskok” waarmee internasionale of multikulturele maatskappye gereeld te doene het. Dit is nietemin disfunksioneel wanneer hierdie spanninge omslaan in negatiewe, of hatige of rassistiese, stereotipering van ’n ‘ander’, of die skepping van kru vyandbeelde.

 

Dit word gevaarlik wanneer sulke reaksies aansluiting vind by verdelende ideologie wat onverdraagsaamheid, en soms ook geweld, regverdig. Die radikaliserende nul-som benaderings wat deur sommige akademici en akademiese instansies bevorder word, kan almal, ook studente inkluis, uiteindelik baie kos.

 

Dit is nietemin ’n gegewe dat kampusse, dié van die UP inkluis, sal verander om gehoor te gee aan die behoeftes van die studente. Die onnodige afskaffing van Afrikaans sal egter nie “verdeling” tussen studente ophef nie – meer kreatiewe en minder drakoniese idees is nodig om versoening tussen studente te bewerkstellig. Dit sal veel eerder verbittering en onttrekking tot gevolg hê.

 

As gevolg hiervan sal die UP sekerlik ook ’n sterk bron van inkomste verloor, iets wat die universiteit se leierskap sonder twyfel reeds weet. Hulle weet sekerlik ook dat die studente dikwels geldige griewe het, maar ook dat die toegee aan populistiese eise in alle waarskynlikheid slegs tot meer ekstreme eise sal lei.

 

Die universiteit se leierskap bevind hul sonder twyfel in ’n moeilike posisie en dit is maklik om van buite af opinies te lug. Nietemin moet ons daarop wys dat dit binne ’n gesonde en verdraagsame demokrasie moontlik moet wees om ’n plek vir Afrikaans en Sepedi langs Engels by die UP te handhaaf. Kwessies soos taal, kulturele ruimtes en kurrikulum by die UP moet dus onderhandel word eerder as dat ’n meerderheidsgroep eenvoudig hul wense op ’n minderheid afdwing. ’n Nuwe gedeelde taal- en kulturele ervaring op die kampus moet deur ope gesprek geskep word.

 

Verdraagsaamheid is uiteraard ’n voorvereiste hiervoor, iets waarvan daar tans te min op kampusse te bespeur is, die UP ingesluit. In hierdie opsig is ’n rol vir politieke stigtings soos die Achmed Kathrada Stigting, die Mandela Stigting en ander aangewese. Ook die Taalraad is bereid om te help.

 

Hóé die kampus verander is amper belangriker as die resultate daarvan. Dit het implikasies vir die politieke kultuur van die land as geheel.

 

Conrad Steenkamp
Hoof van die Afrikaanse Taalraad

 

Eindnotas

 

1 Meer as 70% van studente wat die universiteit verlaat, dui byvoorbeeld probleme met Engels aan as een van die hoofredes vir hulle besluit. Daar is etlike goeie artikels hieroor geskryf en ons kan binne die bestek van hierdie bydrae nie daarop ingaan nie.

 

2 Lees “transformasie”, indien u wil, hoewel mens dalk oor die presiese inhoud van die begrip moet praat.

 

3 Lees in hierdie geval “dekolonisering”, hoewel mens hier ook oor die inhoud hiervan kan praat.

 

Bydrae tot taalkwessies by die Universiteit van Stellenbosch

 

Die Voorsitter, Ondervoorsitter en Hoof het in Februarie 2016 ‘n vergadering met die Rektor, prof. Wim de Villiers gehad. Die indruk is gekry dat hy sterk ten gunste van Engels as universiteitstaal is en dat hy nie die kwessies rondom Afrikaans verstaan nie. Die Rektor is van die Taalraad se konstruktiewe benadering verseker, maar ook dat die Taalraad standpunt sal inneem indien nodig. Die Voorsitter van die Raad, George Steyn, wou nie tot ʼn gesprek met die Taalraad instem nie.

 

Die Taalraad se posisie is dat die Universiteit van Stellenbosch die enigste universiteit in die land is, met die moontlike uitsondering van die Sol Plaatje Universiteit, waar demografiese gewig deurslaggewend kan wees vir die oorlewing van Afrikaans as akademiese taal. Hierdie siening word versterk deur die onlangse oorwinning van die Solidariteit Beweging ten opsigte van die regering se toepassing van nasionale demografie op provinsiale vlak.

 

Die Taalraad het vier strategiese doelwitte ten opsigte van die US taalbeleid.

  1. Om die aandag te vestig op die impak van die nuwe beleid op veral armer en plattelandse Afrikaanssprekendes;
  2. Sterker sigbaarheid van hierdie gemeenskappe en wyer deelname aan die taaldebat te bewerkstellig;
  • Om die US daartoe te bring om die taalbeleid met alle belanghebbendes te onderhandel, pleks van bo-af af te dwing;
  1. ʼn Wye koalisie te bewerkstellig waaraan partye kan deelneem ten spyte van uiteenlopende ideologiese standpunte en strategieë..

 

Die mediadekking wat die Taalraad se inisiatiewe oor die taalbeleid van die US gekry het, het dit duidelik gemaak dat die taalbeleid ʼn veel wyer demografie as wit Afrikaanssprekendes raak en dat die strategie grotendeels suksesvol was.

 

In Mei het die Taalraad die eerste van twee werkswinkels oor die taalbeleid in samewerking met PEN Afrikaans gereël. Dit is bygewoon deur etlike akademici en lektore, verteenwoordigers van AfriForum Jeug en die Adam Tas Studentebeweging, Fedsas, die Akademie en ʼn aantal deelnemers uit die gemeenskap. Ten spyte van uiteenlopende posisies was daar konsensus oor die tekortkominge van die konseptaalbeleid en sterk ondersteuning van ‘n petisie onder hoofde van die Gelyke Kanse inisiatief.

 

Op 7 Junie vind ʼn tweede werkswinkel plaas met ʼn groter gemeenskapskomponent. Die groep word uiteindelik ʼn Kans in Afrikaans! (KiA!) gedoop en rig aansluitend ʼn uitdaging tot ʼn openbare debat aan die rektor van die US. Die US aanvaar nie die uitdaging nie, maar nooi KiA! om ʼn bruin delegasie saam te stel. Die bruin deelnemers aan KiA! was oorwegend ten gunste daarvan dat die uitnodiging aanvaar moet word, hoewel beide GelykeKanse en die Taalraad besorgd oor aspekte hiervan was, eersgenoemde omdat hulle bevrees was dat sulke gesprekke negatiewe gevolge vir die hofsaak sou kon inhou.

 

Die KiA! delegasie ontmoet op 21 Julie met die US se bestuurspan. Hoewel die US gedurende die gesprek argumenteer dat daar geen hiërargiese verhouding tussen die onderrigtale is nie, en dat die tale dus gelyk is, was die aanduidings dat die US se posisie oor die taalbeleid nie verander het nie. Nogtans is etlike kwessies vir verdere gesprek geïdentifiseer en besluit om gereeld te ontmoet om die taalbeleid en implementering daarvan te bespreek. Na die vergadering het die delegasie ʼn persverklaring (Bylaag D1) onder die vaandel van ʼn Kans in Afrikaans! vrygestel waarin hulle dit stel dat Afrikaans en Engels volgens die US gelyke status by die universiteit geniet.

 

Hierdie gebeure het die verskille in die strategiese benaderings van die Taalraad en GelykeKanse vorendag laat kom. GelykeKanse mik naamlik op ʼn hofsaak teen die US, terwyl die Taalraad op gemeenskapsmobilisering mik. Hierdie benadering, en insidente soos die vrystelling van die persverklaring, het spanning geskep. ʼn Ontmoeting is op 10 Augustus met GK gehou om hierdie kwessies op te los. Die gesprek word op 3 September voortgesit. Twee GK-lede is ook uitgenooi om deel te neem aan ʼn beplanningswerkswinkel vir die Moedertaalinisiatief wat in samewerking met etlike lidorganisasies gehou word.

 

Verskeie studentegroepe het ook aan die aktiwiteite om die US se taalbeleid deelgeneem. Dit sluit in AfriForum Jeug, Adam Tas, Verras van die US se Departement Afrikaans, die SBA se mentees, en Afrikaansstudente van KSUT. Die aktiwiteite sluit in hulle deelname aan Taalraadwerkswinkels oor die US-taaldebat en drie byeenkomste om oor studente se perspektiewe oor die taalbeleid en samewerking tussen die organisasies te praat. In die volgende kwartaal neem die Taalraad deel aan ʼn Afrikaanse musiekfees vir studente en skoliere, en organiseer ʼn werkswinkel oor taal en ideologie.

 

Die Taalraad se bydrae tot die saak teen die Universiteit van die Vrystaat word vervolgens ook vir die hofsaak teen die US gebruik, onder die handtekening van die Voorsitter. Die Voorsitter tree hier egter in haar persoonlike hoedanigheid op.

 

Byeenkoms van Afrikaansdepartemente

 

Op 21 Mei kom studente en lektore van Afrikaansdepartemente in Pretoria bymekaar. Aandag is gegee aan hoe departemente kan bydra om Afrikaans se posisie as akademiese taal te bestendig, die rol wat departemente kan speel in debatte oor Afrikaans se posisie, en steun van departemente aan die Internasionale Vereniging vir Afrikaans as die gesig van Afrikaans in die buiteland. Gedurende hierdie ontmoeting word die pad vorentoe vir formalisering van die groep bespreek, met die uiteindelike idee dat die groep ʼn lid van die Taalraad word. Die Departemente sal ook ʼn rol kan speel in die Gerwel-gespreksreeks oor Afrikaans as akademiese taal wat die Taalraad volgende jaar aanbied.

 

Die Akademie het daarna formeel besluit om die heeltemal funksionele webwerf van die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) aan die Taalraad oor te dra. Die webwerf kan dus gebruik word om die Afrikaansdepartemente nasionaal en internasionaal met mekaar te verbind. Indien genoeg steun daarvoor bestaan, sal die departemente moet saamspan om die nodige befondsing bymekaar te kry. Die volgende byeenkoms met die Afrikaansdepartemente vind op 1 Oktober plaas, hierdie keer in die Kaap.